Die slotreël van “alles: 'n cento” (bl. 13) kom (net so) uit een van my gunsteling boeke van alle tye: Richard Powers se boom-boek, The Overstory. Die aanhaling uit die boek is:
But Now, that next best of times, is long, and rewrites everything.
Hierdie gesteelde sin is een van vele – elke woord van die gedig is afgekyk / afgeskryf / skaamteloos geplagiëer uit boeke, webwerwe, gedigte, lirieke, album-titels en enige ander bronne waar ek die woord “everything” teëgekom het.
Die cento is 'n gedig wat volledig uit die woorde van ander skrywers gekomponeer word1. Vir my het dit soos die perfekte digvorm gevoel om oor die internet en alles op die internet te skryf, maar my komposisie het nie op die internet begin nie. Ek het toevallig opgelet dat 'n klomp van die aanhalings wat ek in 2020 en 2021 uit boeke en essays afgeskryf het in die “commonplace book” wat ek in daardie tyd gebruik het, die woord “everything” bevat, en begin om 'n gedig uit die aanhalings te weef.
Een reël kom uit Anne Carson se Plainwater, nog 'n boek wat onder my gunstelinge tel, en 'n ander uit Lily King se fantastiese boek Writers and Lovers. Ek gaan nie sê watter reëls nie – lees die boeke omdat hulle briljant is, en vind die aanhalings as addisionele klein kick / vreugde.
2020 en 2021 was goeie leesjare vir my - ek het see toe getrek om aan Soekenjin te werk, en deel van my daaglikse roetine was lees. Lees was deel van die werk – die lekker deel. As ek nou deur die notaboeke blaai wat ek daardie tyd gehou het, dan val dit my op hoe baie uitstekende boeke ek toe raakgelees het - en omdat ek nie een is om hekwagter te speel as dit by goeie boeke kom nie, deel ek 'n vinnige lys van 10 moet-lese hier:
Hamnet - Maggie O’Farrell (haar heel beste boek, as jy my vra)
Assassin’s Apprentice, Royal Assassin, Assassin’s Quest - Robin Hobb (epic fantasie-reeks, onverbeterlik om van realiteit te ontsnap)
The Dutch House - Ann Patchett (dit was my eerste bekendstelling aan Patchett - my liefde vir haar groei met elke boek!)
Skepsel - Willem Anker (So snaaks en hartroerend. Absoluut die lees werd.)
Cloud Atlas - David Mitchell (Ek het dit op aanbeveling van die literator Willie Burger gelees - Willie ken sy storie en David Mitchell swing vir die fences hier)
Modern Gods - Nick Laird (Zadie Smith se man skryf nie net uitstekende gedigte nie - hierdie roman het my lank bygebly)
Hot Milk - Deborah Levy (Ek kan nie soveel besonderhede hieroor onthou nie - buiten dat dit baie goed was.)
Piranesi - Susanna Clarke ('n Super vreemde leeservaring wat ek nooit sal vergeet nie. Ek kan nie verduidelik nie - jy sal self moet lees)
Normal People - Sally Rooney ('n Liefde vir die eeue.)
A Gentleman in Moscow - Amor Towles (Ek was mal oor hierdie boek. As jy ooit skelmpies so klein bietjie verlang na lockdown, lees dit dadelik)
Ek kan elkeen van hierdie boeke met 'n rein hart en diep oortuiging aanbeveel - maar die een wat jy eenvoudig op jou boek bucket list MOET sit is The Overstory. Ek het dit in 2020 vir die tweede keer gelees, en meer onlangs 'n derde keer. Die boek se struktuur is slim en verrassend, daar is baie karakters, en heelwat van hulle is onvergeetlik, en die emosionele impak van party storielyne is intens. Dit is een van daardie boeke wat jou fundamenteel verander. Jy sal nooit weer op dieselfde manier na 'n boom kyk nie.
BIBLIOGRAFIE
Carson, Anne. Plainwater. 1995.
King, Lily. Writers and Lovers. 2020.
Powers, Richard. The Overstory. 2018.
Lees hier meer oor die vorm: https://en.wikipedia.org/wiki/Cento_(poetry)
Share this post