Ek is mal oor die digter Ross Gay se versameling essays The Book of Delights (2019). Die boek besing 102 klein vreugdes wat hy deur die loop van een jaar opgeteken het, eenvoudige en uiteenlopende genotjies soos klein blommetjies wat op die sypaadjie groei, vuurvliegies, kombucha en die liedjie “Stay” deur Lisa Loeb.
Een van die essays wat my bygebly het, gaan oor die vreugde van poësie-voorlesings1. Gay se argument is, breedweg, dat mens 'n hele ander dimensie van die poësie ervaar wanneer die liggaam van die digter teenwoordig en betrokke is, omdat jy deurentyd bewus is van die feit dat die persoon wat vir jou lees sterflik is, aktief besig om dood te gaan. (Vriende, medesterwendes, wat 'n vrolike gedagte, haha.) Hy skryf:
During a poetry reading you are watching someone communicate with their body, which is as it communicates in the process of fading away.
[…]
There are multiplicities within a human body reading poems that a poem on a page will never reproduce.
Dis dié idee wat my geïnspireer het om voorlesings van gedigte uit Soekenjin op te neem, soms as video en soms sommer net klank, sodat jy saam met my deur die boek kan lees en méér ervaar as net die woorde op die pienk papier (en die woorde op die wit papier, waar die geld vir die pienk papier opgeraak het.)
Ek sal elke Sondag 'n voorlesing van 'n gedig (of 'n paar kortetjies) uitstuur, so jy kan stil raak, luister en saam lees, en dan noem ons sommer hierdie stukkie saamwees “kerk”.
Slaan gerus jou pienk boekie2 oop op bl. 11:
ek soek alles
“ek soek alles” is die heel laaste gedig wat ek vir Soekenjin geskryf het. (Die laaste sal eerste wees, en die eerste etc etc. Ek’t mos gesê ons gaan kerk hou hier.) Die boek was basies klaar, maar ek het geweet ek kort nog 'n vers wat die oorweldiging van behoefte en begeerte, al daardie goed wat mens gelyk wil hê as jy so bietjie scroll, in 'n stortvloed woorde vasvang. Ek het ook geweet ek is nou klaar toe ek op dieselfde dag deur Fotostaatmasjien blaai (ek doen dit nie gereeld nie, okay) en agterkom die laaste gedig in daardie boek se titel is “'n inleiding tot alles”. Dit het soos 'n soomlose oorgee in die 400m-poësie-aflos gevoel - perfek!
Noudiedag lees ek in Miranda July se roman All Fours die volgende aanhaling raak:
“Remember the Simone de Beauvoir quote,” she said, “ ‘You can’t have everything you want but you can want everything you want.’ ”
―Miranda July, All Fours
Dit het my dadelik aan hierdie einste gedig laat dink. Die punt was, dink ek, om uitdrukking te gee aan die dinge wat ek wil hê … en al weet ek ek kan dit nie alles kry nie, kan ek dit ten minste een keer sê, sonder om weg te skrum van hoe baie dit is, en hoe teenstrydig.
Ek was verbaas dat ek nooit voorheen die Simone de Beauvoir-aanhaling teëgekom het nie. Ek het vandag 'n bietjie gesoek en kan steeds nie daarop afkom nie. Die naaste wat ek kon vind is hierdie aanhaling op Good Reads, wat skynbaar nie uit 'n boek kom nie, dis net gemerk as 'n “Quotable Quote”:
I am awfully greedy; I want everything from life. I want to be a woman and to be a man, to have many friends and to have loneliness, to work much and write good books, to travel and enjoy myself, to be selfish and to be unselfish… You see, it is difficult to get all which I want. And then when I do not succeed I get mad with anger.
Sien, dis nie net ek nie! Dit lyk my dis heel algemeen om gierig te wees en boonop teenstrydige dinge te wil hê, en baie daarvan.
Ek is deesdae heelwat minder op die internet, en ek dink die lysie van dinge wat ek soek is ook al effens korter … maar ek staan by baie van die dinge wat ek in 2023 wou hê, veral miljoene boeke. En as ek gierig mag wees en een ding bysit, nee, twee, dan is dit wêreldvrede … en 'n enorme bolla soos De Beauvoir.
Au revoir.
Bibi
BIBLIOGRAFIE
Gay, Ross. The Book of Delights. 2019.
July, Miranda. All Fours. 2024
Slippers, Bibi. Fototstaatmasjien3. 2016.
Ditto die een: Koop Fotostaatmasjien.
Share this post