0:00
/
0:00

Lees saam deur Soekenjin 6: die internet van dinge

Waarin almal via alles aan mekaar verbind is

Soos wat my hele Januarie die maand van Adam Moss se The Work of Art was, behoort Februarie aan Natalie Goldberg se Zen-skryfgids Writing Down the Bones. Die boek verdien haar eie post, en sy sal nog een kry, maar saam met hierdie week se voorlesing wil ek net vinnig stilstaan by een aanhaling waarby ek vasgesteek het:

We are all interwoven and create each others’ universes. When one person dies out of his time, it affects us all. We don’t live for ourselves, we are interconnected. We live for the earth, for Texas, for the chicken we ate last night that gave us its life. For our mother, for the highway and the ceiling and the trees. We have a responsibility to treat ourselves kindly; then we will treat the world the same way.

Nadat die nuus van jeugboekskrywer Joha van Dyk se onverwagse dood op 2 Februarie gebreek het, was my dae daarvan vol. Ek kon nie (en kan steeds nie) ophou om aan Joha te dink nie. Ek het haar net skrams geken, en slegs 'n paar keer in persoon met haar te doen gehad - en tog het ek haar verlies in my beendere gevoel. Toe ek die gedeelte hier bo in Writing Down the Bones raaklees, het dit my help verstaan waarom. Dit voel of Joha buite haar tyd gesterf het. Sy was bloedjonk - mens het aangeneem, as vanselfsprekend aanvaar, dat sy nog so baie dinge sou doen, so baie boeke sou skryf, so ver sou gaan. Dis asof daar 'n draad gepluk is uit die web wat ons almal verbind, en mens kan nie help om die skok daarvan deur jou hele lewe te voel vibreer nie. 'n Mens voel ook die impak van haar verlies op haar familie, vriende, geliefdes, haar fans … Nou, elke keer wanneer ek aan Joha dink, dink ek ook aan ons almal se interverbintenis. Ons lewe vir die aarde, en vir die dorpe waarin ons woon, en vir ons honde en ons katte en ons hamsters. Beslis vir ons ma’s, ja, en vir boeke en stories, en vensters en die blou lug en branders en blomme. Nie een van ons gaan vir ewig lewe nie. Mag daardie wete ons inspireer om te lewe asof als wat ons doen 'n impak op alles en op almal om ons het … omdat dit het.

Wanneer ons verlief is, is dit maklik om te sien hoe alles verbind is. Dis wat in die gedig hier bo aangaan. Die liefde en die dood leer my, ten minste hierdie week, presies dieselfde les.

Rus sag, liewe Joha.

BIBLIOGRAFIE

  • Goldberg, Natalie. Writing Down the Bones. 1986.